Hospitaal Tyd

Ek kan basies hierdie inskrywing begin deur om te sê ek haat hospitale. Ek haat die reuk van medisynes wat deur my neusholtes opkruip en ek haat die ellendige lang gange waardeur ek moet stap as ek ‘n pasient besoek. Dit is niemand se gunsteling plek om uit te hang vir koek en tee nie. En dit is beslis nie my gunsteling plek nie. Ek het ‘n bewondering vir diè wat gereeld na ‘n hospitaal moet gaan vir mediese behandelinge en pasiënte wat daar bly vir maande aaneen.

Ongelukkig moes ek na die plek gaan wat ek nie eintlik toe wil na gaan nie. Die hospitaal. Of meer spesifiek, The Tokai Medical and Dental Centre in die Kaap. Ek moes vir ‘n operasie gaan om al vier my verstandtande te laat verwyder omdat hulle probleme gegee het die afgelope vier maande. Die tande wat onder gesit het was reg op my senuwees geleë en die tande wat bo gesit het, baie naby my sinusse. Dit het infeksie in my tandvleis veroorsaak en moes verwyder word.

Ek gaan my inskrywing nou vat reg van die begin af. Aan die einde van Januarie het my onderkaak aan my regte kant aanhoudend gepyn met my een verstandtand wat besig was om deur my tandvleis te kom. Die pyn was later so erg ek kon skaars my mond oopmaak of ordentlike woorde uitspreek. Op Vrydag, 1 Februarie 2019 het ek ‘n afspraak gehad by die tandarts en die x-strale het vir my die nuus gegee waarop ek nie eintlik gehoop het nie. Al vier my verstandtande moet verwyder word onder algemene verdowing.

Die tandarts het my verwys na ‘n chirurg by Constantiaberg Medi-Clinic en ek moes bel vir ‘n afspraak daar. Ek kon op daardie oomblik myself nie bekommer oor mediese onkostes nie want my verstandtande moes getrek word. Ek kon eers ‘n afspraak kry Donderdag, 21 Februarie en het daardie dag af geneem by die werk om Dr. Allie Mohamed te sien. Hy het vir my presies verduidelik hoe presies hulle my tande gaan verwyder tydens ‘n konsultasie.

Aanvanklik was my operasie geskeduleer vir Maandag, 1 April 2019, by Constantiaberg Mediclinic, maar weens administratiewe probleme moes ek ongelukkig my operasie uitstel en skuif na Woensdag, 15 Mei 2019 by die Tokai Medical and Dental Centre toe. So ek moes nog langer wag, maar dit het my meer tyd gegee om my sake uitgesorteer te kry voor die operasie.

Woensdagoggend was ek nie heeltemaal op my senuwees soos ek gedink het ek sou wees nie. Ek was verbasend baie kalm gewees toe ek aangemeld het by die hospitaal. Die vriendelike saalsuster was baie behulpsaam gewees met die vorms wat ek moes invul en die bloeddruk wat sy geneem het voor die operasie.

My baie bekommerde Ma en Pa het my afgesien by die hospitaal en het huistoe gegaan. Ek het myself besig gehou deur om tydskrifte te lees en boodskappe te stuur op my foon toe Dr. Mohamed aangekom het. Ek het ook gehoor dat ek eerste op die lys was. Ek was op ‘n manier heel tevrede daarmee, maar my senuwees het aan my begin knaag.
Dinge het so vinnig gebeur toe ek my oë uitvee, het die teater suster en die narkotiseur se assistant my na die teater toe gehelp het. Ek het daar gelê en met die narkotiseur gesels oor my werk. Hy het vir my gesê om nie te kyk hoe hy die drip se naald in my hand insit nie, waarna ek gespot het en gesê het dat ek nogals honger is vanmiddag…

En dit was die laaste ding wat ek kon onthou voordat ek weer wakker geword het. Eers het ek geen idee gehad hoe ek beland het in die gewone saal nie, want ek het vyf minute terug nog met die narkotiseur gesels. My brein het basies geweier om te registreer waar presies ek was in daardie tyd. Als was net so baie deurmekaar op daardie oomblik.

Dr. Mohamed het later ingekom en met my gesels. Hy het gesê als het goed afgeloop tydens die operasie, wat vir my ‘n groot verligting was. Ek het met daardie vrese gesit dat ek met probleme met my kakebeen sou gesit het en dat ek probleme met my spraak sou gehad het, maar ek kon duidelik praat na die operasie, so dit was goeie nuus.
Ek was eers later daardie middag ontslaan en het die vriendelike susters bedank vir al hul hulp. As gevolg van die verdowing was ek ‘n bietjie van balans af en baie moeg gewees. By die huis het ek dadelik in die bed geklim en Gilmore Girls op Netflix gekyk, met ‘n yspak om my kop. Ek het toe al besef dat my operasie verby is en dat ek nie hoef bekommerd te wees oor dit nie.

Mense se verstandtande word gewoonlik verywder in hul 20’s. Myne was net ‘n bietjie later verwyder op die ouderdom van 37 jaar oud, wat ook volgens die doktors baie normaal is. Ek het baie pyn verwag, maar die pyn het eintlik nooit gekom nie, wat eintlik verbasend is want die tande het baie diep in my tandvleis gesit. Al hoe ek gevoel het was ongemak en my onderkaak wat net effens styf en geswel was.

Die dag na die operasie het ek die hele dag omtrent geslaap weens die medikasie, asook Vrydag. Ek het Saterdag nie so lekker gevoel nie, maar het baie water gedrink en meer geëet en weer vroeg gaan slaap. Vandag voel ek ‘n bietjie baie beter en beweeg ‘n bietjie meer rond, alhoewel ek nog nie heeltemal uit die woud uit is nie. Die herstel proses is ‘n bietjie stadig as wat ek gedink het dit sal wees, maar ek kom daar.

Ek wil net vir die dokters, verpleegpersoneel en susters by Tokai Medical and Dental Centre hartlik bedank juis omdat hulle hierdie ervaring vir my baie makliker gemaak het en dat hulle vir my gerus kon laat voel oor die hele operasie. Mense in die mediese beroep kry nie altyd baie krediet nie, en ek wil hierdie inskrywing gebruik om dit te doen. Baie dankie vir als wat julle doen om ons gesond te kry.

Eina! Net na my operasie
Advertisements

Moeder Moeder

Dit is Moedersdag. ‘n Dag opgedra aan al die moeders wat hard werk om hul kinders die beste lewe te gee wat hulle kan. ‘n Huldeblyk aan alle Ma’s wat hul kinders grootmaak en hulle te lei om goeie besluite te maak in die lewe. ‘n Dag opgedra aan die moeders wat hul kinders onvoorwaardelik liefhet, ongeag hul foute. ‘n Dag opgedra aan vroue wat ander onder hul vlerk neem en hulle by te staan, lief te wees vir hulle asof hulle hul eie is en hulle te help wanneer dinge hulpeloos is.

Moeders is engele op aarde wanneer hulle hul arms om ons sit en ons te troos wanneer dit lewe swaar en moeilik raak. Moeders is ons helde omdat hulle so baie opofferings maak om vir ons die beste lewe te gee wat hulle kan gee. Moeders is geduldig wanneer ons hardkoppig en rebels is. Moeders is ons beste vriende wanneer ons saam kuier oor ‘n heerlike beker koffie en ‘n ontbyt by ‘n restaurant. Moeders is die beste raadgewers wanneer die lewe ons ‘n dwarsklap toedien. Sonder Moeders was ons almal niks in die lewe nie.

Gelukkige Moedersdag aan al die Mammas daar buite wat so hard werk en so baie opofferings gemaak het. Hierdie dag behoort net aan julle.

Ek wil net vir my ma hartlik bedank vir al die liefde, geduld en ondersteuning oor die jare heen. Sy is my held en ‘n engel wat vir my waardevolle lesse geleer het en so baie raad gegee het. Baie dankie daarvoor.

Kruisies en Merke

Ek was vanoggend vroeg wakker gewees. Gewoonlik op ‘n vakansiedag is ek lief daarvoor om later te slaap as gewoonlik, ‘n beker koffie te geniet, op sosiale media te gaan om te kyk wat aangaan en rustige musiek te luister. Maar nie vandag nie. Vandag moes ek, soos duisende ander Suid-Afeikaners, in ‘n ry staan by die stemlokaal en ons kruisies maak agter ‘n politieke party wat ons glo daardie verskil sal maak in Suid-Afrika. Ek wou dit gou agter die rug kry sodat ek rustig kan wees deur die dag, dalk ‘n fliek of twee kyk, ‘n reeks volg op Netflix en onder die duvet lê terwyl die reën val buite.

Ons was vroeg by die stemlokaal gewees want ons wou dit so gou as moontlik agter die rug kry. Dit was koud en nat gewees, en die idee van die duvet en ‘n beker koffie het so ideaal gewees. Ek en my ma het aan die gesels geraak met mense wat saam in die ry gestaan het. Ons het nie noodwendiglik oor die verkiesing gepraat nie, maar ook oor ander onderwerpe. Ek het vir ‘n paar minute gewag nadat my Ma eers ingegaan het om te stem. Tot nou toe het ek nog nie besluit vir watter party ek voor gaan stem nie.

Ek het nie baie tyd gehad om oor die verkiesing te dink nie. Ek was baie besig gewees met werk en voorbereidings vir my operasie volgende week om verstandtande te trek so daar was maar baie min tyd om aan die verkiesing te dink en my kruisie te trek. Al wat saakmaak vir my is dat ek gestem het vir die party wat ek dink ‘n verskil sal maak in Suid-Afrika en sy mense. Dit was nie ‘n maklike stem gewees nie, maar ek het vir die party gestem wat misdaad, korrupsie en swak dienste sal beveg en sal opstaan vir die Suid-Afrikaners wat nie baie het nie. Ek het my kruisies gemaak op die nasionale en die provinsiale briewe gemaak en ‘n merk op my linkerduim om dit te bewys. Soos met elke Suid-Afrikaner het ons fotos van ons gemerkte duime op sosiale media gesit en ander aangemoedig om hul kruisies te trek.

En om te dink dat daar ‘n tyd was dat ek nie my kruisies getrek het nie en merke op my linkerduim gehad het nie want op ‘n tyd wou ek nie gestem het in die verkiesings nie. Ek gaan dit toeskryf aan woede wat ek gedra het binne-in my na ‘n inbraak en die maande daarna. Ek was net kwaad vir alles en almal gewees in daardie tyd en het gevoel dat ek in die steek gelaat was deur als wat politiek was. Baie jare later het ek nogsteeds nie my kruisie gemaak nie. Ek wou net nie. Ten spyte van mense wat my gewaarsku het dat ‘n geen-stem ‘n stem is vir die regerende party. En ten spyte dat mense my gesê het dat ek nie eintlik die reg het om te kla oor watter gemors in Suid-Afrika plaasvind nie.

In 2014 het ek as kieser geregistreer. En in dieselfde jaar het ek vir die eerste keer gestem. En ook goed gevoel daaroor. Want met my stem het ek ‘n klein aandeel gehad om ‘n verskil te maak in die Weskaap. En dit was ook my bydrae om die regerende party uit die Weskaap te hou. Ek het gestem met die hoop dat daar ‘n verskil gemaak sou word in die Weskaap.

Destyds was ek baie jonk, in my twintigs en het nie tred gehou met politiek nie. Vir my het dit gevoel asof dit ‘n mors van tyd was om in lang rye te staan en te stem. Jongmense van vandag, en dit is nie almal van hulle nie, sien nie kans om te stem vir ‘n party wat ‘n verskil sal maak in hul toekoms nie. Hulle voel daar is nie ‘n toekoms in Suid-Afrika nie.

Dit is waar ek sal sê dat hulle juis daardie kruisies moet maak om hul toekoms te verseker en ons te help om ‘n baie beter toekoms vir die kinders van Suid-Afrika te verseker. Dit is nooit maklik om positief te voel Dit is nooit maklik om positief te voel as nuusblaaie vol is van berigte oor staatskaping, korrupsie, misdaad en die swak ekonomie. Nooit. Maar om vir die regte party te stem sal help om al hierdie negatiewe aspekte uit te roei.

Ek was ook jonk, hardkoppig, rebels en het eenvoudiglik nie belang gestel in politiek nie. Ek wou nie stem nie. Maar ek weet van beter vandag. Daar is kinders wie ons nodig het om die regte besluite te neem oor hul toekoms. Ek het ook laastens my kruisie gemaak vir my niggie wat ‘n baie beter toekoms verdien in Suid-Afrika.
As jy ‘n jong volwassene is en jy bly weg van die naaste stemlokaal, dink aan die kinders wat te jonk is om deel te neem aan die verkiesing en ‘n beter lewe verdien. Hulle het ons nodig.

Die merk op my linkerduim
Vanoggend oppad stemlokaal toe

Wense En Vrese

Ons is in ‘n tydperk van onsekerheid in Suid-Afrika en dit net so voor die verkiesing op Woensdag, 8 Mei 2019. Woensdag gaan duisende Suid-Afrikaners in lang rye wag om ons kruisie te trek agter die politieke party van ons keuse. Sommige van ons gaan met hoop in ons oë staan, ander mense gaan nou weer met groot onsekekerheid Woensdag staan en wag om die kruisie te trek. Ek gaan ook Woensdag my kruisie trek, maar ek is nou op hierdie oomblik nie seker vir wie ek gaan stem nie, maar wees rustig want die regerende party en daardie party in rooi is nie hoog bo aan my lysie van partye om voor te stem nie.

Maar ek is nie hier om my keuses te verduidelik nie. Ek het gister die nuutste uitgawes van die Huisgenoot gekoop. Op die voorblad is Steve Hofmeyr en ‘n opskrif wat heet “Herrie woed oor Steve se lied”. Saam op die voorblad is ‘n paar bekendes soos Snotkop, Shaleen Surtie-Richards en Liz Meiring, om ‘n paar te noem. In die artikel deel hierdie bekendes en nog meer hul wense, vrese en waarop hulle bou in Suid-Afrika. Dit maak sin om als dit te deel want dit is wat ons almal voel wat hard werk om Suid-Afrika te bou vir ieder en elk van ons. Wel, altans is dit my droom ook. En my wense.

En vandag het ek dit ook goed gedink om my wense en vrese te deel op hierdie blog en dit voor die verkiesing. Hierdie inskrywing is bloot net my persoonlike of semi-persoonlike gevoelens wat ek graag wil deel en dit spruit geensins uit die herrie wat ontstaan het onlangs oor daardie lied nie. Dit sal baie onregverdig teenoor my wees as mens om onder die indruk te wees dat die onsmaaklikhede wat nou tussen Steve Hofmeyr en Multi-Choice plaasvind, die inspirasie was vir hierdie inskrywing.

Ek het ‘n paar maande gelede ‘n inskrywing gedoen getitled Buite die Lyne wat gehandel oor basies gelykheid vir ieder en elke Suid-Afrikaner. Van my latere inskrywings het ook aan hierdie onderwerp geraak en is basies my wens vir Suid-Afrika. My wens is vir ons almal om gelyke geleenthede te kry en gebruik te maak daarvan om Suid-Afrika ‘n beter land vir ons almal te maak. Ek glo vas dat ons almal gelyk is in God se oë en dat ons almal ‘n regverdige kans in die lewe verdien.

Nog ‘n wens is respek en liefde mekaar en dat ons almal met mekaar oor die weg kan kom. Met respek en liefde kan ons almal Suid-Afrika ‘n beter plek maak vir ons almal. Ek glo dat vriendelikheid en respek niks kos nie en as ons almal kan saamwerk om dit te vermag.

En dit bring my by my vrese wat die feit is dat mense nogsteeds die verlede teen mekaar gebruik om hul frustrasies en woede uit te druk op wrede maniere en om woorde van haat en bitterheid teenoor mekaar te spreek, of dit nou in die media is, op regstreekse televisie uitsendings of op sosiale media. Mense moet hulself dit afvra. Is geweld en haat ooit die moeite werd om jou punt te maak? Daar is mense wat hulself skuldig maak daaraan en ek glo dat dit in die pad staan om van Suid-Afrika ‘n beter plek te maak vir ons almal.

Die verlede is agter ons almal en ongelukkig kan geen mens ‘n tydmasjien in die hande kry en dit verander nie. Ongelukkig is nie almal bereid om vorentoe te kyk wat voorlê en aan die toekoms te wil werk nie.

Dit is waar ek ook wil eintlik deel waarop ek graag wil bou. Die media is altyd so vol slegte nuus. Ons almal, en dit is ek inkluis, kla oor die misdaad, korrupsie, moord, hoë pryse van basiese benodighede soos kos, water en petrol vir ons motors, ons veiligheid as ons alleen in die donker is oppad werk toe of as ons alleen in ons huise is, en beurtkrag wat ons onlangs ondergekry het. Daar is basies niks om op te bou as daar gedurig negatiwiteit is nie.

Maar elke nou en dan lees ek van iemand wat ‘n positiewe en mooi daad vir iemand anders doen. Die media is darem bereid om te deel oor hoe mooi Suid-Afrika en sy mense is. Dit los ‘n warm gevoel binne in my as ek lees hoe ‘n onbekende held of heldin ‘n verskil in iemand se lewe maak. As ons almal so kan wees. As ons almal ‘n verskil in ander se lewe kan maak, maak nie saak hoe groot of hoe klein nie, sal Suid-Afrika ‘n beter plek vir ons almal wees.

Een positiewe en mooi daad vir ‘n ander mens gaan baie verder as al die negatiewe aspekte wat Suid-Afrika so onderkry. En dit is hoekom ek graag nuus vanuit ‘n positiewe oord op my self-getitelde Facebook blog deel wat dit is sulke nuus wat ons almal net daardie hoop gee en ons geloof in die mensdom herstel.

Die opkomende verkiesing gaan basies net bestaan uit politieke speelballe waar politici mense met beloftes gaan tevrede hou en partye mekaar gaan aanvat oor hierdie belofte en daardie belofte wat hulle so graag hul ondersteuners wil tevrede hou en hoop vir die beste. Maar op die ou einde van die dag begin dit als by jou en dit eindig by jou. Net jy alleen kan daardie verskil maak in die lewe van ander mense.

Ek weet nie wat presies gaan voorlê met hierdie verkiesing nie. Ek wens ek het geweet. Maar terwyl daar ‘n onsekerheid heers, maak solank die verskil in ander se lewens, want dit is wat jou ryker sal maak as ‘n politikus met beloftes wat jy nie kan vertrou nie.

Afrikaans

Afrikaans is die taal wat ek praat, skryf, lees, en nou ‘n inskrywing doen. Dit is my taal. Ek praat die taal by die huis en meeste van die tyd by die werk saam met my vriende en kollegas. Ek lees Afrikaans, luister Afrikaanse musiek en het ‘n groot versameling van Afrikaanse films. Hierdie taal is in my bloed en ek sal baie ver gaan om te sê dat ek nie skaam is op hierdie taal nie.

Ek het in ‘n Afrikaanse huis grootgeword. Ek het na Afrikaanse skole gegaan en geleer, geskryf en eksamen geskryf. Ek het in my volwasse lewe begin Afrikaanse musiek waardeer en in 2012 my eerste Afrikaanse DVD gekoop want ek het gedink oor waarop ek uitgemis het met al die internasionale flieks en musiek wat ek gekoop het as ‘n jong volwassene.

Ek waardeer Afrikaans as ‘n taal want sonder die taal was ek ‘n vreemdeling vir myself. Terwyl ek hierdie inskrywing doen, luister ek nou die musiek van Karen Zoid op my skootrekenaar wat interessant is want Chasing the Sun van dieselfde sanger was die eerste CD wat ek gekoop het wat Afrikaanse musiek opgehad het. Ek kan onthou hoe my suster met ‘n frons na my gekyk het terwyl ek as ‘n 21 jarigie, heelwaarskynlik onvolwasse, rebelse jong vrou na haar musiek geluister het. My versameling het gegroei van Karen Zoid tot Theuns Jordaan, Adam Tas, Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue en vandag is ek mal oor Jo Black se musiek, asook Gian Groen, Die Tuindwergies en Klopjag se musiek.

Ek het ook vir die eerste keer besef dat die Afrikaanse film bedryf ‘n rare diamant is in die oë van die grote wêreld waarin ons woon toe ek my eerste paar Afrikaanse flieks begin versamel het. Hierdie bedryf is uniek in die sin van die woord dat soveel wonderlike en unieke stories vertel is vir Suid-Afrika en sy mense. Films wat onlangs vrygestel is soos Ellen, Kanarie, Stroomop en Vuil Wasgoed is net ‘n bewys dat hierdie film bedryf tot baie in staat is om te kan kompeteer met die res van die wêreld en veral met ‘n groot bedryf soos Hollywood. Noem my naïef in hierdie sin van die woord maar dit is waarin ek vas glo.

Om eerlik te wees, sonder ‘n Afrikaanse musiek bedryf en veral ‘n film en vermaak bedryf was daar nie juis iets waar Suid-Afrikaners, veral Afrikaans sprekendes soos ek, kon vasklou en bly hoop nie in die taal wat ons praat nie. As mense hierdie soort voorregte gaan ontneem of die oorsaak daarvan is dat dit van ons ontneem is, gaan die nuwe generasie nooit iets leer van die Afrikaner kultuur nie en sy unieke geskiedenis en agtergrond nie. Vermaaklikheids sterre en bekendes gaan basies sukkel om ‘n inkomste te verdien en produksiemaatskappye gaan vou, besighede soos sekuriteitsmaatskappye en spyseniers gaan sukkel om kop bo water te hou.

Dit is hoekom eintlik ons moet dankbaar wees dat kanale soos KykNet en VIA-TV bestaan want daardie twee kanale is omtrent die enigste kanale wat in Afrikaans uitsaai en die Afrikaanse gemeenskap vermaak, of dit nou in film, musiek of in televisie reekse is. Selfsugtige optredes gaan nie jou mede-Afrikaner help as jy sy of haar enigste manier van inkomste en leefwyse wil ruineer nie.

Ek glo die taal Afrikaans het daardie kans en almal het die reg om trots te voel daarop, maar nie selfsugtig te wees daaroor nie. Ek is Afrikaans sprekend, my redes is hierbo gegee oor hoekom die film en musiek bedryf so van belang is. Dit gaan nie net oor ‘n vaste inkomste vir die bekende sanger, akteur of aktrise nie. Vir my gaan dit oor wat ons die kinders van môre gaan leer in die vorm van film en musiek en vermaak oor die algemeen?

Wanneer Vrede Oorwin

Dit was verlede week en Sondag. Dit was Paasfees gewees. ‘n Tyd van vergifnis en vrede. ‘n Tyd van verlossing en tweede kanse. ‘n Tyd vir familie en vriende. Ek het myself daardie Sondagoggend in ‘n winkelsentrum bevind. Ek weet dit is nie die plek waar mense voorstel ek sal wees nie. Die eerste sin gaan oor Paasfees en ek was veronderstel om in daardie tyd in die Kerk te wees. Maar ek was in Checkers gewees besig om ‘n paar dringende items te koop, plus ietsie lekker vir die reeks wat ek volg op Netflix.

Maar ek was in Checkers. Ek het my beurt afgewag om te betaal vir my benodighede. Voor my staan ‘n bejaarde dame. Sy betaal vir haar items en bedank die kassier. Die kassier sê iets in haar eie taal en voordat ek dit nog kon besef het die bejaarde tannie in die kassier se taal haar bedank. Dit was ‘n oomblik waar ek verbaas gestaan het voordat ek vir my items betaal het. Daardie oomblik het ook ‘n warm gevoel binne in my gelos wetende dat daardie twee dames ‘n voorbeeld is van hoe mense mekaar moet behandel en hoe dinge moet verloop in Suid-Afrika, want soos Bouwer Bosch altyd sê: Liefde wen.

Minute later bevind ek myself net buitekant Checkers. Ek het op ‘n bankie gesit en gewag vir my ouers om klaar te maak. Ek het langs ‘n klein dogtertjie gesit. Ek het haar so 4 of 5 jaar oud geskat. Ek het na die dogtertjie gekyk en ek het na haar gekyk en vir haar geglimlag. Sy het skaam vir my geglimlag. Sy het verder na haar jonger broer toe gegaan om sy skoene uit te trek. Twee mense, van verskillende agtergronde, het vriendelik vir mekaar geglimlag asof die wêreld, of Suid-Afrika, nie in so ‘n groot gemors is as wat die media dit altyd uitbeeld nie.

Hierdie twee oomblikke bly nog tot vandag toe by my. Ek het gwonder hoekom ek juis moes winkels toe gaan om ‘n paar benodighede te kry, iets wat ek kon doen die volgende dag, en nie op Paas Sondag nie. Daar is altyd ‘n rede en altyd ‘n goeie rede daarby ook. Ek moes in daardie winkel wees om te sien dat die kleinste gebaar soos ‘n glimlag en ‘n groet, groot is in God se oë.

Ek het ‘n paar dae tevore, vanuit ‘n plek van frustrasie, my wense op Twitter uitgespreek dat mense in Suid-Afrika net met mekaar oor die weg moet kom en dit ter wille van vrede. Al wat ek kon sien wat mense wat met mekaar baklei en nie daartoe in staat is om ‘n gesonde debat te voer nie. Mense moet altyd mekaar diskrediteer om bo uit te kom. Mense moet altyd vinger wys omdat hulle altyd dink hulle is beter as die persoon wat langs hulle staan in ‘n ry in Checkers of Pick ‘n Pay. Mense moet altyd op mekaar neersien. Mense moet altyd ander afbreek en nie opbou nie. Dit is ongelukkig hoe die mensdom werk en watter teleurstelling is dit nie?

Genadiglik het ek gesien dat mense tog met mekaar oor die weg kan kom. Ek was bly om dit te sien en dat vrede altyd wen in die slegste van tye en omstandighede. Dit begin altyd by jou om ‘n hand uit te reik na ander. Dit begin atyd met ‘n glimlag vir ander mense. Dit begin altyd met ‘n vriendelike gebaar. En dit begin altyd dat mense in vrede met mekaar leef.

Dit is waar dit begin. Ek was nie perfek op daardie dag om nie in die kerk te wees nie. in plaas daarvan was ek in ‘n winkelsentrum besig om inkopies te doen. Maar aan die anderkant was ek bly dat ek op daardie oggend daar was om te sien dat die kleinste gebaar altyd by jou sal bly as die slegte nuus wat die koerante vol lê. Dit is wanneer vrede wen.

25 Jaar

Op hierdie dag 25 jaar gelede was dit ‘n groot dag vir hierdie land van ons. Suid-Afrika het sy eerste demokratiese verkiesing gehad en almal wat leef en beef het hul kruisies agter ‘n politieke party getrek met hoop en afwagting in hul oë, min wetend wat op hulle wag 25 jaar in van die land van melk en heuning. Ek was 12 jaar oud en nog minder geweet wat op my wag 25 jaar in die toekoms. Ek was nogsteeds ‘n kind, ‘n tiener wat nie eintlik in politiek belang gestel het nie. En het nogsteeds nie totdat ek my eerste kruisie baie jare later getrek het agter die D.A. in die algemene verkiesing in 2014.

Wel, my vraag is net of daar ooit vryheid is in Suid-Afrika? Hoekom vier mense hierdie dag as nuusblaaie oorheers word deur moord, korrupsie, misdaad, hoë kospryse en nog hoër petrolpryse, en ‘n groot getal van onsekerheid wat vir hierdie pragtige land voorlê. Die ekonomie ry wipplank en mense staan bakhand langs strate met die hoop dat motoriste ten minste vir hulle ‘n R5 muntstuk in hul hand sal toestop. Soveel negatiwiteit dat dit byna onmoontlik is om die positiewe in als wat Suid-Afrika kan inhou.

Dit sou dalk makliker wees om die daaglikse nuus te ignoreer en net te fokus op die positiewe. Soos byvoorbeeld dat mense net met mekaar oor die weg kan kom, soos wat ek gesê het vanuit ‘n plek van frustrasie op Twitter net ‘n paar weke gelede gesê het. Ongelukkig vir ons almal oorskadu als wat negatief is die positiewe. Soos moord, korrupsie, hoë pryse van amper alles wat arme mense nie kan bekostig nie, net om ‘n paar voorbeelde te noem. Dit is maar moelik vir ons almal om dinge in ‘n positiewe lig te sien, en daar is altyd iets positiefs in Suid-Afrika. Dit begin by mense soos jy wat ‘n bydrae kan lewer of iemand help wat amper niks het nie. Of iemand te help wat deur moeilike tye gaan.

Of eenvoudiglik jy kan iemand elke oggend net vriendelik groet of net vir kinders glimlag. ‘n Bydrae so klein vir jou maar groot en betekenisvol vir die mense vir wie jy glimlag of groet, want dit maak ‘n verskil in mense se lewens.

Vyf en twintig jaar later kon ek ‘n eerder baie negatiewe inskrywing gedoen het, net hier op hierdie blog. Maar ek was in geen bui om dit te doen nie. Ek voel altyd negatief wanneer ek die nuus lees oor al die slegte dinge wat in Suid-Afrika gebeur, ek kla byna elke dag oor die besige verkeer of ek raak emosioneel of baie kwaad as daar nuus is oor kinders wat vermoor is in Suid-Afrika. Ek kry altyd ‘n warm gevoel wanneer mense ver kom in die lewe wat eens niks gehad het, maar baie hard gewerk om sy of haar drome te verwenslik.

Vyf en twintig jaar later en ons almal sukkel, maar as ons almal net met mekaar oor die weg kan kom en as almal ‘n verskil in ander se lewens kan maak, sal Suid-Afrika ‘n baie beter plek wees vir ons almal.

‘n Pot vol Winter

Somer is my gunsteling seisoen van die vier seisoene. Ek kan baie dinge doen wanneer in hierdie warm en mooi tyd van die jaar. Ek kan vir ure buite sit met ‘n lekker leesboek, ons kan as familie buite sit om die braaivleis vuur, ons kan die Kaap en sy mooi strande bewonder of ons kan plekke besoek waar ons altyd wil gaan. Ons kan Seepunt se prominade gaan stap en die pragtige kus bewonder of basies Hout Baai gaan besoek met sy mooi berge en die pragtige strand.

Kom winter tyd is dit nat, koud en onplesierig in die Kaap, mits jy onder die duvet lê met ‘n beker koffie langs jou bed in ‘n lekker leesboek. Of verkies jy dalk om heeldag ‘n reeks te volg op Netflix?

Winter is nie wat ek sal noem een van my gunstelinge seisoene van die jaar nie. Winter in die Kaap is net te koud wanneer jy vroeg uit daardie bed moet opstaan om te gaan werk of in die stormreën loop oppad werk nie. Of wanneer jy by die venster uitkyk en alles is grys en depressief in die stad. Wanneer ek elke aand my die huis kom tydens die wintermaande wil ek net met alle mag en siel onder my duvet lê terwyl die reën buite val.

Daar is, alhoewel, ook soveel aspekte om van winter te waardeer, veral as jy ‘n Kapenaar is of as jy vir die afgelope paar jaar in die Kaap woon en werk, maar jy kom van ‘n heeltemal ander provinsie af. Die Kapenaars het ook geen ander keuse gehad as om winter te waardeer nie, veral verlede jaar met ‘n baie beter reënseisoen. Want as dit nie vir die winterseisoen wat ons verlede jaar gehad het nie, was die damme in die Kaap leeg en ons sonder water. Die droogte in die Weskaap verlede jaar was byna die Kapenaars se ondergang en ons almal het gely weens kwaai waterbeperkings en ‘n groot gebrek aan water.

Winter het vir my ook laat besef hoe belangrik dit is om dit te waardeer vir wat dit is verlede jaar. Ek moes my maar staal vir koue, nat reënweer oppad werk toe en ook oppad huistoe van die werk af, net solank reënwater in die damme en riviere geval het en my en miljoene Kapenaars van water voorsien het. Ons in die Kaap bid nogsteeds vir ‘n wonderlike reënseisoen vanjaar juis omdat ons nog nie uit die droogte is nie.

Winter is nie altyd daardie vaal en neerdrukkende seisoen wat baie mense voorstel dit is nie. Daar is altyd ‘n lekkerte aan hierdie seisoen. Soos byvoorbeeld dat ek wakker geword het vanoggend met reën wat saggies buite geval het. My dag was beplan gewees om net heeldag luilekker onder die duvet te lê en ‘n paar programme op Netflix te kyk met sjokolades en marshmellow paaseiers langs my bed.

My gunsteling deel van winter is altyd, maar altyd groente of boontjiesop met brood. Wat beter is as dit oorstaan vir die volgende aand. Milo warm sjokolade is ook altyd ‘n groot wenner wanneer die Kaap van Storms sy ding doen.

Winter is nie altyd lekker nie maar het sy voordele. Alhoewel ek mal is oor somer in die Kaap, waardeer ek winter want reën wat die afgelope paar jaar skaars was in die Kaap, is vir ons soos Manna vanuit die hemel.

Reëndruppels teen vester

Reëndruppels op rose
Wat om te doen as dit reën

 

My Gunsteling winter dinge

 

 

 

Woorde

Ek het nou net op twitter gegaan en ongelukkig moes ek wegstap van ‘n virtuele onaangenaamheid wat gedreig het om ‘n wonderlike dag te versuur. Ek het geen woorde gepraat nie met hierdie individu nie wat duidelik gedink het dat ek iets is wat ek op geen manier is nie. Ek het net die individu geblok en my kant gestel van hoe ontstellend dit was vir my. Die beste ding wat ek kon doen was om hierdie individu te blok want hy was nie my energie werd nie.

Dit is nou een ding van sosiale media. Dit is vol slaggate en soms duik daar negatiewe aspekte op. Dit is net vir jou om te besluit wat om daarmee te doen. Ek gaan gereeld op nuusblaaie om die nuutste nuus te volg. Dit is vir my om te besluit of ek wil deelneem aan die debatte algaande nuusgebeure of net daar uitbly. Meeste van die tyd bly ek eerder stil en soms is dit interesant watter menings mense het oor sekere onderwerpe. Soms sal ek die kommentaar op Facebook lees en wonder hoekom dié persoon se woorde nie eerder kon gebly het nie.

Ek lewer kommentaar oor onderwerpe wat na aan my hart lê. Geweld teen vroue en kinders is een groot onderwerp wat na aan my hart lê. Dieremishandeling is iets wat my bloed laat kook. Dit is ongemaklike en baie ernstige kwessies wat hulp en bystand van die regering moet kry, maar nie altyd dit kry nie. Die Dros verkragting saak het groot opspraak gewek met mense wat grootliks aan die Ma en die onskuldige slagoffer se kant was, maar tog was daar een of twee mense wat gedink het dat die Ma beter na die kind moes kyk. Karabo Mokoena was deur haar kêrel vermoor en ‘n handjievol mense het die blaam vir haar eie dood op haar gesit wat my bloed op twitter laat kook het. My mening het ‘n impak gehad, maar het dit rêrig saakgemaak op die ou einde?

As mense ‘n artikel op Huisgenoot se Facebook blad oor Karlien van Jaarsveld byvoorbeeld lees, is die kommentaar soms baie negatief en somtyds baie onaangenaam om te lees van mense wat haar nie eens as persoon ken nie. Kommentaar soos “sy soek aandag” en nog meer skaar aan die onnodige kant. Geen mens weet presies hoe dit is vir haar om hierdie soort kommentaar te lees op sosiale media nie.

As mense byvoorbeeld ‘n artikel oor Steve Hofmeyr lees op Maroela Media se Facebook blad, sal mense baie positiewe dinge van hom sê, sy lof besing, hom bedank vir wat hy vir sy volk doen en hom verdedig teen dié wat nie baie positief is oor hul held nie. In beide gevalle van Steve en Karlien, die mense se positiewe en negatiewe kommentaar, moet jy jouself afvra of jou mening rêrig tel?

Sosiale Media het net daardie spesiale manier om mense, gewone mense met ‘n doodgewone 9-5uur werk, op hol te sit oor groot nuusgebeure. Of dit nou Donald Trump wat sy eie lof besing in 280-karakter tweets of iets meer tragies en meer hartseer soos die Christchurch tragedie waar 50 moslems wreed vermoor was verlede maand. Jou opinie oor elke saak is maar net een van miljoene menings wat gelos word regoor die wêreld want elke mens het daardie reg tot ‘n mening van enige soort, maar tog sal dit gou vergete word met nuwe menings wat gelig word.

Mense wat jou kommentaar lees op sosiale media kan reageer op drie maniere, hulle kan positief reageer met ‘n duimpie op “like” op Facebook of jou so slegsê op Twitter dat dit soms op ‘n persoonlike vlak is. Of mense kan jou blatant ignoreer want volgens hulle is jy maar net nog ‘n “niemand” op hul radar. Kwessies soos korrupsie en misdaad is natuurlik almal se gunsteling onderwerpe om jou bloeddruk te laat opjaag. En dan natuurlik kry jy die swak rand, duur kospryse, hoë petrolpryse, beurtkrag en die swak gesondheidstelsel en onderwysstelsel. Rassisme en gelykheid is altyd baie sensitiewe onderwerpe om oor te praat op sosiale media. Ek loop op virtuele eiers wanneer dit kom by hierdie sensitiewe onderwerpe.

Sosiale Media en woorde wat gespreek word op die platforms is maar somtyds net ‘n tydbom wat wag om te ontplof, maar is dit soms die moeite werd om jou mening te lig en jy weet dit mag dalk ‘n magdom mense ontstel? Ek het ses jaar gelede ‘n inskywing op ‘n ander blog geskryf en die vraag, na ses jaar bly nogsteeds dieselfde. Tel jou mening op sosiale media rêrig wanneer baie mense nie rêgtig omgee oor wat jy te sê het nie, tensy jy bekend is aan duisende Suid-Afrikaners soos Steve en Karlien natuurlik.

JouMening 28022013 (Jou mening, tel dit rêrig – 28 Februarie 2013. Skakel in PDF formaat)

Die Wind Van Voor

Die lewe is mooi, maar somtyds kan dit net ‘n bitch wees op ‘n baie goeie dag. Of stel dit so, die lewe is ‘n bitch op ‘n baie slegte dag. Die lewe is vol mooi dinge, maar dit is ingewikkeld met reëls en standaarde en so aan. Almal sukkel, sukkel, hoekom is dit ingewikkeld? Dit is wat Karen Zoid vra in haar een lied Familie Reunie. Almal kry die wind van voor, ongeag waarvandaan jy kom.

Ek het verlede jaar so ‘n ent gaan stap saan met my Pa net so voor die Cape Town Marathon. Ons was daar by Rondebosch en het net ‘n kilometer of twee gestap, iets wat ek maklik kan doen. Maar nie op daardie dag nie. Die Suid Ooster was so sterk gewees dat ek gesukkel het om by te hou juis omdat hy my van voor gevang het. Ek het onfiks en basies onvoorbereid gevoel.

En dit is hoe byna elke aspek van die lewe is. Verwag die onverwagte en wees voorbereid vir alles wat die lewe gooi. Die afgelope paar maande was vir my die moeilikste gewees want daar was geen voorbereiding gewees op wat op my sou kom nie. Ek het by tye broos en weerloos gevoel teen die aanslae van die lewe, maar meestal het ek moeg en gedreineerd gevoel. Asof ek hard geskop was terwyl ek gelê het. Om sonder jou geliefde troeteldier te lewe of om ‘n vriend aan kanker te verloor is om dele van jou lewe te verloor. Dit is soos om sonder ‘n ledemaat te leef; jy leer om daarmee te leef, maar jy is nooit weer dieselfde nie.

Die lewe is broos en ingewikkeld. Dit voel soms vir my asof die wêreld teen my is en ek voel party dae asof ek ten hemele wil skree, maar ek besef bitter gou die wêreld dra nie skuld by jou nie en dat ek dalk net ‘n bietjie ondankbaar is want daar is mense daar buite wat alleen deur die lewe gaan. Wat gaan vir die een persoon, geld ook vir my somtyds. Daar is dae dat ek broos en weerloos voel. Daar is dae dat ek wil huil, of net skree. Maar aan die anderkant het ek lug in my longe, ‘n dak oor my kop en kos op my tafel elke aand. Soos met die dag in Rondebosch, kry ek die wind van voor elke dag. Maar weereens kan ek elke aand gaan slaap met ‘n dak oor my kop terwyl dit reën of wanneer die wind so koud waai.

Die lewe is een baie groot bitch, maar somtyds is dit net ek wat vergeet van hoe mooi die lewe ook kan wees. Ek het dit vanoggend besef vanoggend in die Kerk. Ek het agter ‘n familie gesit met ‘n baba seun. Terwyl ek moes sing saam met die gemeente, het ek vir die baba geglimlag en goofy uitdrukkings gemaak. Die lewe is moeilik en ingewikkeld, maar dit tel en dit is kosbaar.

Die lewe is ingewikkeld, dit is somtyds hel op aarde. Maar terwyl daar musiek op die luidsprekers is, dans al het jy nie die beste ritme of dansbewegings nie en sing asof niemand jou kan hoor nie, al sing jy hoe vals en jou hond loop weg. Die lewe is moeilik ja. Maar soos iemand wat ek baie goed geken het altyd gesê het: “kyk noord en fok voort”. Dit is hard, maar jy moet die stof van die grond afskud nadat jy hard geval het, die bul by die horings pak en sterk wees. Handleidings kan jou dalk help met ‘n paar kwellende kwessies, maar dit hang van jou af of jy daardie handleiding se raad gaan volg. Dit hang net van jou af of jy gaan opstaan en die lewe weer in die oë kyk.